09/29/2026
Ek besluit om die naweek ’n dubbel Promania by die Nyl te doen, en die organiseerder maak dit vir ons ekstra lekker deur die Vrydag ook vir ons ’n ekstra dag in te sit.
Donderdagmiddag, ’n vakansiedag, pak ek ná werk my voertuig en maak gereed vir die vroeë vertrek die volgende oggend.
Met die feit dat ons net twee weke tevore die Method Feeder SA’s daar gevang het, het ek darem ’n hele plannetjie in my kop, waarvan die babers definitief deel is. Ek sorg ook dat ek vir my mooi miere pak... alhoewel ek toe ook nie genoeg gepak het nie! 😂
Vrydagoggend 03:30 val ek in die pad, lekker opgewonde, want ons gaan mos Nyl toe! 😁🎣
Ek vat net vier stokke saam:
• 2 x 11'2" Raging Bull Evolution X-II's
• 1 x 12'6" Super Light Medium Evolution X-II's
• 1 x feederstok, waarvoor ek eintlik ’n ander plan gehad het.
Daar aangekom, pak ek vinnig my goedjies by die huis af en skiet af na Swim 12.
Ek begin elke dag op 60 m met ’n baberstok en vang met reëlmaat vis op albei stokke. Alhoewel die babers ’n klein bietjie vinniger eet, is hulle nie baie groot nie, maar dit gee darem nommers by.
Dag 1
Dag een eindig ek eerste in my sone en algeheel eerste met:
🎣 37 visse
⚖️ 90,62 kg
Dag 2
Dag twee begin goed, maar ná die vier-ure-breek gaan dit baie sleg. Ek kry nie ’n vis vir die eerste 90 minute nie.
Dit word ’n gekrap, en so elke 20 minute kry ek ’n vis, maar dan verloor ek nog een of twee. Teen twee uur het ek net twee visse in die net.
Ek maak vinnig ’n verstelling en in die volgende 90 minute vang ek 11 mooi karpe.
Ek eindig weer eerste in my sone en algeheel eerste met:
🎣 31 visse
⚖️ 74,800 kg
Dag 3
Dag drie wil die babers glad nie in die oggend eet nie, en die wat ek wel kry, is op die karpstropies. Dit beteken natuurlik daar is ’n groter risiko om hulle te verloor, met dunner hoeklyn en kleiner hoekies.
Maar nou ja, dit is hengel! 🎣
Ons vang steeds ’n klompie vis, maar definitief meer karpe as die vorige dae.
Ek eindig tweede in my sone en algeheel vierde vir die dag met:
🎣 23 visse
⚖️ 61,050 kg
Dit was nog steeds die tweede swaarste sak vis vir die dag.
Ek ry huis toe baie tevrede met ’n uitstekende naweek. Ek is ook amptelik gedoop as die Swemkampioen 😂, want ek het elke dag agter groot babers aan geswem en nie een van hulle geland gekry nie...
“It is called fishing and not catching!” 😂🎣
Baie dankie aan Westerns wat my die geleentheid gee om my passie te kan beoefen, en aan elkeen wat vir my mooi wense gestuur het.
Op die einde van die dag kom al die eer toe aan my God, wat my die talent gegee het en wat ons behoed en bewaar sodat ons in Sy pragtige natuur ons sport kan beoefen.
Groete, tot ons mekaar weer langs die water sien! 🎣
JLC