31/08/2026
Bepalings vir Absa Wildeklawer 2027 bekend
Kimberley, Noord-Kaap – Die wagtyd is verby. Die bepalings vir die Absa Wildeklawer 2027 Rugbytoernooi, wat van 23 tot 26 April 2027 in Kimberley plaasvind, is amptelik bekend gemaak.
Die toernooi, wat algemeen beskou word as die grootste en mees gesogte skolerugbybyeenkoms in Suid-Afrika, sal weer van die land se voorste rugbykragte op een verhoog saambring. Onder die deelnemende skole tel onder andere Grey College, Paarl Gimnasium, Paul Roos Gimnasium, Affies, Helpmekaar Kollege, Garsfontein, Noordheuwel, Waterkloof, Monument, Oakdale, Boland Landbou, Durban High School, Jeppe High School for Boys, Northwood, Westville Boys’ High School, Maritzburg College en verskeie ander tradisionele rugbyreuse.
Die toernooi skop op Vrydag 23 April 2027 af met drie opwindende wedstryde, gevolg deur die amptelike openingseremonie en die aand se hoofwedstryd tussen Paarl Gimnasium en Hoërskool Monument.
Saterdag se program beloof om een van die sterkste wedstryddae in die geskiedenis van die toernooi te wees, met topkragte wat mekaar regdeur die dag pak. Die aksie word op Maandag afgesluit wanneer die laaste dag se wedstryde beslis wie die groot kanonne van Absa Wildeklawer 2027 sal wees.
Volgens Cassie Carstens bly Absa Wildeklawer veel meer as net ’n sporttoernooi.
“Absa Wildeklawer gaan oor geleenthede, ontwikkeling en die bevordering van skolesport op die hoogste vlak. Ons bring die beste skole, spelers, afrigters en ondersteuners bymekaar om ’n platform te skep waar jong sportmanne hul talente kan uitleef en hul drome kan nastreef.”
Met duisende besoekers wat na Kimberley sal stroom, sowel as uitgebreide digitale en stroomdekking, word verwag dat Absa Wildeklawer 2027 weer rekordgetalle sal lok en sy status as die voorste skolesportbyeenkoms in Suid-Afrika verder sal versterk.
Die volledige bepalings is beskikbaar op die amptelike Absa Wildeklawer Sport-platforms.
Absa Wildeklawer 2027
23 – 26 April 2027
Kimberley, Noord-Kaap
Meer as net ’n toernooi.
Dit is die voortbestaan van skolesport.
Volg ons:
Facebook | Instagram | TikTok: