16/07/2025
Bergfietstoer 2025 ! skryf nou in -
Daar kom ‘n BERGFIETSTOER ! In ‘n nuwe formaat.
- DV Vrydag 12 tot Dinsdag 16 Desember 2025 te Dankbaar (Nuy vallei), Weskaap. Ja dit is 4 dae vir die langasems, maar dan is daar ook ’n 2de opsie, indien jy die Maandag 15de moet werk, jou keuse !
Ons kamp by Dankbaar https://www.dankbaarcamping.co.za/ aan die begin van die Nuy Vallei tussen Worcester en Robertson, en ons het reeds plek bespreek vir 30 deelnemers . Dankbaar kampterrein het 5 kampareas , elk met ablusie en klein kuier lapa en KolKol hottub (wat is dit in Afrikaans ?‘n vuurgestookteborrelbad sonder borrels). Lieflike groengras loop uit tot by die natuurdam, met voels en visse. Elke aand maak ons groot vuur by die groot gemeenskaplike lapa. By die lapa is ook krag vir die ketel en haardroeer ? (en chargers/foonlaaiers} O ja, die kamp areas het nie krag nie, ons maak koffie op gas en liggies is solar – lekker “back to basics”. Warm stortwater werk met gas.
Dankbaar kampplek is op die Nuy pad. Jou inskrywingsfooi sluit in die kampplek , braaivleisvure, koswa met lekker snoepgoed by waterpunte , skaapbraai Saterdagaand en ander dinge soos beste kuiers met die beste bergfietsvriende. Ons deel agt persone per kamparea – so kies jou maters vroegtydig.
Kosmaakreelings: Elkeen bring en maak self ontbyt, middagete en aandete. Ons maak braaivleisvure elke aand by die lapa. Daar is genoeg plek vir almal om saam kos te maak en te kuier. Of jy kan by jou kamparea jou eie ding doen. Soggens vroeg is koffiewater beskikbaar by die lapa. Soos altyd ry die koswa saam vir snoepgoed en water op die roete.
Skaapbraai: Saterdagaand is skaapbraai – Dankbaar se eienaar maak vir ons ‘n skapie en bykosse - om vingers af te lek. So Saterdagaand hoef jy nie te kook nie.
Snoepie: is by die lapa, daar is braaihout, ys, koeldranke en ander klein benodighede.
Aktiwiteit opsies:
Oor die 4 dae doen ons verskillende aktiwiteite. Natuurlik bergfietsry, stap en swem. Jy kies wat jy wil doen. Ons bou makliker opsies in vir elke dag. Sodoende kan diegene wie hul wil uitleef op die langer harder roetes, dit doen. Maar diegene wie dalk ’n rustiger dag in die saal verkies, ook dìt kan doen. Terug by die kamp kuier en ontspan almal dan weer saam.
Vrydag: Sonsakrit: Ons ry die rantjie uit tot bo om ver te kan sien. ‘n Ligte wyntjie en koutjie word bedien.
Saterdag vroeg:
Fietsers: De Wet’s keller toe – so 30km tot daar vir koffie. Koswa op roete met water en versnaperings. Seker 60km
Stappers: roete op naburige plase
Sondag vroeg:
Nuy roetes – stop by Nuy restaurant. Koswa op roete met water en versnaperings
Stappers: Nuy vallei
Maandag vroeg: – Saggy Stone - Rooiberg keller ? Koswa op roete met water en versnaperings
Bio-ekspert kursus – leer jou omgewings plante ken
Dinsdag vroeg: - Worcester trails. Koswa op roete met water en versnaperings
Betaling:
Maak seker jou plek is vooraf geboek. Kostes soos volg:
Vrydag tot Dinsdag (vertrek) R 1600 . Om in te skryf stuur epos na: [email protected]
Bring saam:
Jou tent,
Slaapsak, kussing en kombers
matras/stretcher,
kampstoel, geen stoele of tafels word voorsien nie
jou kamplig en kopliggie en “powerbank”. As jy solar paneel het om alles te laai bring di took saam !
jou eie eetgerei en glas en koffiebeker
skottelgoedwasseep
jou eie toiletware, en muskietweerder
’n rolletjie toiletpapier
lekker kampbaadjie want die aande raak soms koud
jou swembroek, handoek - ons kamp op die dam oewer, en swem heerlik na fietsry
jou fiets – in ‘n skoon en diensbare toestand – dit is lekker as niemand vir ander hoef te wag nie , maak seker jou fiets is reg, dan ry almal lekker saam.
fietslig vir eerste dag se skemerrit
pompe, spaar wiele en gereedskap en alles wat nodig is – die Bergfietstoer maak nie voorsiening vir herstel van jou fiets of van jou liggaam/ego nie – jy is self daarvoor verantwoordelik
“Tubeless” bande word sterk aanbeveel.
stelletjie om jou fiets mee te was na elke dag se lekker bergfietsry
noodhulp stelletjie, en persoonlike medikasie
waterbottels en energiedrankies en energie stafies as jy dit benodig
Wipes om jou hande skoon te vee voordat jy eet - moenie kettingolie en kos meng nie
Iets sterkers om te drink saam met jou aandete, maar onthou soms raak die middag kuier lank, so bring nog ’n paar versnaperinge
‘n goeie en hulpvaardige gesindheid
Algemene reelings:
Jy sal alle padreels gehoorsaam.
’n Aangewyste bergfietsryer ry voor. As jy verby hom ry, en jy verdwaal is jy op jou eie, en kan jy terug by die kamp dadelik aanmeld vir skottelgoedwasdiens.
Die koswa dien ook as vangwa, om meganiese en mediese hulp te verleen sover moontlik. Daar is plek vir fietse op die koswa, maar net vir noodgevalle.
Sorg dat jy altyd by die groep bly, en jy mag nie ander paaie of roetes ry as wat die groep ry nie.
‘n Drinkwatertenk ry saam op die koswa, moenie enige plek water tap nie. Daar is genoeg water om hande te was, maar wees asb spaarsamig.
Ons neem 5 kamp staanplekke en het dus 5 badkamers, wat ons tussen mekaar om die b***t kan gebruik. Laat dit asb so skoon soos jy dit wil ontvang.
Die organiseerders van die bergfietstoer doen dit vir die liefde van bergfietsry, en vra dus dat jy behulpsaam en geduldig sal wees as alles nie 100% vlot verloop met die reelings nie.
Vrywaring:
Wanneer jy inskryf kom jy ooreen dat jy sal voldoen aan al die reels van die bergfietstoer, en die reels van Dankbaar kampterrein en die reels van die roetes wat ons ry. Verder onderneem jy ook dat jy aan die bergfiets toer deelneem op eie risiko en dat jy nie die bergfietstoer of enige persoon wat verbonde is aan die toer sal verantwoordelik hou vir enigiets wat met jou gebeur nie. Jy kan gevra word om vrywaringsvorms te teken. Indien jy nie saamstem nie sal jy die bergfietstoer by [email protected] in kennis stel voordat jy aan die toer begin deelneem. Indien jy nie saamstem nie nadat die toer begin het moet jy onmiddellik van die toer onttrek en jou inskrywingsfooi sal pro-rata terugbetaal word.
Reg van deelname:
Die Bergfietstoer behou die reg voor om enige persoon, wie nie aan die reels en die gees van die bergfietstoer gehoor gee nie, summier van die bergfietstoer te skors sonder waarskuwing en sonder terugbetaling van die inskrywingsfooi.
Dankbaar Camping – Home Our camp site is nestled in the picturesque Nuy Valley, just outside Worcester in the Western Cape. Here you will wake up to the sound of birds chirping as they celebrate a brand new day.
25/05/2020
04/05/2018
05/04/2018
01/04/2018
30/03/2018
30/03/2018
30/03/2018