12/10/2026
Hierdie tyd van die jaar kan rof wees! Maatskappye hou jaareindfunksies, skole is besig met eindeksamens, sperdatums stapel op en almal probeer nog net alles klaarkry voor die jaar tot ’n einde kom.
Dit voel amper asof almal so ’n bietjie "on the edge" is. Daar is soveel om te doen, maar so min tyd. En iewers tussen alles wat ons moet doen, vergeet ons soms van onsself.
Verlede week, ná ’n lang, oorgestimuleerde dag, besluit ek om die tuin nat te maak. Ja, die plante het water nodig gehad, maar die waarheid is … ÉK het ook water nodig gehad.
Nie letterlik nie, maar op ’n ander vlak. Ek het iets nodig gehad wat my weer energie kon gee. Iets wat my kon help om tot rus te kom en die res van die week met ’n bietjie meer kapasiteit aan te pak.
En niks werk vir my beter as om gegrond te voel in die natuur nie.
Want soms het ons nie nóg ’n oplossing, nóg ’n taak of nóg iets op ons doenlysie nodig nie. Soms het ons net ’n oomblik nodig om asem te haal en weer by onsself uit te kom.
En dit laat my dink …
Wat help jóú wanneer jy oorgestimuleerd voel? En het jy al ooit gedink oor wat vir jou kind werk?
Net soos ons as volwassenes verskillende maniere het om te ontlaai en te herlaai, het ons kinders dit ook nodig. Die een kind het dalk stilte nodig, die ander een beweging, ’n drukkie, tyd buite of bloot ’n bietjie ruimte sonder nóg vrae en verwagtinge.
As ons verstaan wat ons eie liggame en emosies nodig het, kan ons ons kinders ook beter help om hulle s’n te verstaan.
Selfregulering begin dikwels by die klein oomblikke waarin ons leer wat ons nodig het om weer veilig, rustig en gebalanseerd te voel. 🐝
Vertel my: Wat is jou "go-to" wanneer jy voel alles raak net ’n bietjie te veel? En wat help jou kind?